Nothing Special   »   [go: up one dir, main page]

Gaan na inhoud

Aardgas

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Aardgas het die afgelope twee dekades al hoe belangriker geword, veral vir die lande van Wes-Europa, waar aardolie net op enkele plekke in die Noordsee gevind is, maar aardgas heelwat algemener en in groter hoeveelhede voorkom. Vir Suid-Afrika het aardgas in die tagtigerjare ook nuwe betekenis gekry. In hul soektog na aardolie het Soekor reeds 'n aantal redelik belowende aardgas bronne raak geboor en moontlik sal dit binne die volgende dekade ook vir Suid-Afrika van ekonomiese belang kan word.

'n Bogrondse bolvormige stoortenk vir aardgas

Omskrywing

[wysig | wysig bron]

Aardgas omskryf die verskillende mengsels brandgasse wat in ondergrondse gesteentes vasgekeer is. Daar bestaan geen sekerheid oor die manier waarop aardgas ontstaan het nie. Dit word dikwels saam met olie aangetref. Dit het dieselfde samestelling as die myngas in steenkoolmyne. Die opsporing van aardgas en die boorwerk geskied op presies dieselfde manier as vir aardolie. Daarby kom dieselfde koolwaterstowwe in aardgas sowel as in aardolie voor. Soms bevat dit aansienlike hoeveelhede onskadelike stikstofgas, maar wat wel skadelik en giftig is, is die swaelwaterstof wat soms gevind word en by verbranding swaeldioksied vrystel.

Droë en nat aardgas

[wysig | wysig bron]

Aardgas is hoofsaaklik saamgestel uit skoonbrandende metaan wat nie giftig is nie. Aardgas wat uit steenkool ontstaan, bestaan hoofsaaklik uit metaan en word droë aardgas genoem. Die samestelling van aardgas verskil van boorgat tot boorgat, maar by droë aardgas bly metaan die hoofbestanddeel (tussen 75% en 95%). Benewens metaan kan aardgas ook sekere koolwaterstowwe soos propaan of butaan bevat. Sulke aardgas word in die bedryf nat aardgas genoem. Die moontlikheid bestaan dat sulke aardgas ook by die vorming van steenkool ontstaan het en daarna deur die boonste aard- en rotslae kon dring. 'n Konsentrasie van aardgas word gevorm sodra dit deur 'n ondeurdringbare rotslaag gestuit word.

Gebruik

[wysig | wysig bron]

Warmwatertoestelle, stowe, verwarmingsapparaat in fabrieke, sportsale en swembaddens, en die verkoelingstelsels van ysskaatsbane werk alles met aardgas. In die nywerheid word aardgas ook meestal aangewend vir masjiene en apparaat wat nie heeldag gebruik word nie. Die gebruik van aardgas by kragsentrales en chemiese bedrywe hang af van die prys van die aardgas teenoor die van aardolie.

Vandat olie skaarser, duurder en moeiliker bekombaar is, het heelwat instansies reeds oorgeskakel na aardgas. Een van die belangrikste voordele van aardgas is in ieder geval die groter suiwerheid. Dit hoef maar min prosesse te ondergaan om dit suiwer en bruikbaar te kry. Dit besoedel nie die omgewing nie en het buitendien 'n groter gebruiksmoontlikheid as olie.

Produksie

[wysig | wysig bron]

Die aanlê, verwerking, opslag en verspreiding van aardgas:

  1. Aanlê per pypleiding
  2. Afkoeling deur uitsetting om water en koolwaterstowwe te verwyder
  3. Skeiding van die koolwaterstowwe
  4. Verwydering van swaelwaterstof
  5. Oksidasie van swaelwaterstof tot swael
  6. Opslaghouers vir swael
  7. Kondensasie van oorgeblewe koolwaterstowwe
  8. Aardgas word vloeibaar gemaak deur verkoeling
  9. Ondergrondse opslagtenk
  10. Verdampers
  11. Meet- en kontrolestasie
  12. 'n Aardgastenkskip met opslagtenks vir vloeibare aardgas
  13. Landswye en distriksnetwerke vir verspreiding van die gas
  14. Verbruikers

Bronne en ontginning

[wysig | wysig bron]

Dis bekend dat die Chinese in 300 v.C. as deel van hul soutindustrie bamboespale gebruik het om aardgas uit ondergrondse reservoirs te lei. Vandag werk diamantpuntbore op groot produksieplatforms dag en nag om die aardgasvoorrade te bereik wat 3 000 meter onder die aarde se oppervlak vasgevang is.

Lande soos Algerië, wat groot hoeveelhede aardgas uitvoer, het installasies opgerig waarin gas vloeibaar gemaak word voordat dit vervoer word. Vloeibare aardgas word in verkoelde tenkskepe oor die wêreld versprei. Aardgasbronne in Lacq, Frankryk, bevat tot 15% swaelwaterstof en moet eers deur afkoeling van die bruikbare gas geskei word.

Iran, Rusland, en Noord-Amerika blyk die grootste reserwes van aardgas te hê. Die ontdekking van groot hoeveelhede aardgas by Slochteren in Groningen in 1959 het uitgebreide proefboorwerk in die Noordsee tot gevolg gehad. Aardgas uit die bronne by Slochteren in Nederland is van 'n besonder hoë gehalte en bevat geen onsuiwerhede wat eers met duur prosesse verwyder moet word nie. Daarom is aardgas in Nederland 'n redelik ekonomiese energiebron en word dit wyd oor die hele land gebruik. Aardgas word tans in Europa veral gebruik vir verwarmingsdoeleindes in installasies wat nie gedurig teen die volle vermoë hoef te werk nie.

Van die belangrikste probleme met aardgas word ondervind wanneer die bron onder die see lê. Dit moet dan met duur en kwesbare pypleidings na die industriële gebiede vervoer word. Noorweë het byvoorbeeld goeie bronne in sy konsessiegebied in die Noordsee raak geboor, maar kan dit nie ontgin nie. Tussen die bron en die kus van Noorweë lê so 'n breë trog dat dit nie met 'n pypleiding oorbrug kan word nie. Die meeste verbruikers in Brittanje ontvang nou aardgas deur 'n verspreidingsnetwerk wat direk deur 'n ondersese pypleiding verbind is met produksieplatforms in die Noordsee. Maar selfs vandag nog word hierdie kosbare brandstof deur oliemaatskappye weggebrand, omdat dit kommersieel nie so winsgewend blyk te wees as ru-olie nie.

Die tot nou toe bekende aardgas voorrade en jaarlikse produksie van die belangrikste gasproduserende streke. Die tempo waarteen die VSA sy eie voorrade verbruik kan veroorsaak dat hul bronne in die tagtigerjare uitgeput raak. Die Amerikaners oorweeg dit om dan gas uit Afrika en die Midde-Ooste aan te lê. Onlangse gasvondse langs die Suid-Afrikaaanse kus naby Mosselbaai, wat tot 1200 vate per dag sou kon lewer, maak hoegenaamd nie 'n beduidende persentasie uit van die wêreldproduksie as dit ontgin sou word nie.

Die geskiedenis van aardgas-ontginning is dus lank en kleurryk.

Vervaardigde gasse

[wysig | wysig bron]

Steenkoolgas, wat vroeër 'n groot persentasie van die huishoudelike gasvoorraad uitgemaak het, is deur die distillasie van steenkool vervaardig. Daar is vandag meer effektiewe metodes om steenkool en olie in die skoner en doeltreffender vervangingsaardgas om te skakel.

Butaan en propaan word industrieel vervaardig deur die distillasie van olie. Dit word gerieflik as vloeistowwe teen normale temperature in drukvaste houers geberg, vir o.a. huishoudelike gebruik.

Die waterstofekonomie

[wysig | wysig bron]

Die reeds beperkte voorraad olie en aardgas raak al hoe skaarser. Selfs al is die energie wat uit steenkool-, kern-, en ander bronne verkry word voldoende om die groot kragsentrales aan te dryf, kan dit in só 'n vorm voorkom dat dit nie geskik is vir gebruik in voertuie nie.

'n Moontlike oplossing is om waterstof te vervaardig. Hoewel waterstof nie as natuurlike brandstof voorkom nie, kan vervaardigde waterstof die energie van kragsentrales in 'n geskikte vorm vir praktiese gebruik opberg.

In hierdie proses word elektrisiteit deur gewone water gelei om sodoende die waterstof van die suurstof te skei. Met die nodige tegnologie kan die waterstof wat só vervaardig word uitstekende brandstof vir motors en vliegtuie uitmaak en selfs huishoudelike en industriële verwarming verskaf.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
  • Aardgas in Wêreldspektrum, volume 1. 1983 Ensiklopedie Afrikana: (Edms) Bpk.