Anglo-Normandies
Anglo-Normandies l'Anglio-Nouormand | ||
---|---|---|
Gepraat in: | Ierland Verenigde Koninkryk | |
Gebied: | Engeland Skotland Wallis Noord-Ierland | |
Totale sprekers: | uitgesterf | |
Taalfamilie: | Indo-Europees Italies Romaans Wes-Romaans Galloromaans Oïl Anglo-Normandies | |
Skrifstelsel: | Latynse alfabet | |
Taalkodes | ||
ISO 639-1: | geen | |
ISO 639-2: |
| |
ISO 639-3: | xno
| |
Nota: Hierdie bladsy kan IFA fonetiese simbole in Unicode bevat. |
Anglo-Normandies (Frans: anglo-normand, Normandies: anglio-nouormand, Engels: Anglo-Norman) of Anglo-Frans, is die naam van die vorm van Frans wat tydens die Middeleeue vier eeue lank in Brittanje gebruik is.[1] Die taal het 'n groot invloed op Engels gehad en sowat 10 000 woorde van Normandiese of Franse oorsprong is in Engels opgeneem.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die term Anglo-Normandies het ontstaan uit die opvatting dat dit 'n variasie van Oudnormandies is wat saam met Willem die Veroweraar in Engeland aangekom het. Daar word egter gemeen Willem se weermag was heterogeen en dat mense van oral uit Frankryk hulle in Engeland gevestig het. Uit geskrifte wat behoue gebly het, blyk dit ook dat die taal gebruik is deur 'n groot verskeidenheid mense, wat gestrek het van eerstetaalsprekers tot mense wat slegs 'n geringe kennis van die taal gehad het. Sommige vakkundiges meen dus dat die taal eerder as Anglo-Frans behoort bekend te staan.[2]
Anglo-Normandies is in 1066 na Engeland ingevoer nadat die Hertog van Normandië, Willem die Veroweraar, die Saksiese leër van koning Harold II in die Slag van Hastings verslaan het. Baie van die Angel-Saksiese adellikes het op die slagveld gesneuwel, terwyl die oorlewendes dikwels as verraaiers beskou is. Normandiese adellikes het nou vinnig hulle plekke ingeneem sodat die Engelse adelklas byna heeltemal deur Normandiërs vervang is. In 1072 was daar nog net een Angel-Saksiese adellike onder Engeland se twaalf grawe oor, wat vier jaar later tereggestel is.[3]
Die nuwe adel het Normandies as die taal van die heersende klas ingevoer, en dié taal het sodoende 'n baie hoër prestige gehad as Engels, wat slegs deur die laer klasse gepraat is. Die verskil in prestige het die gebruik van albei tale bepaal: Anglo-Normandies het groot agting geniet en is saam met Latyn as skryftaal gebruik en was die administratiewe en hoftaal, terwyl Engels slegs mondelings as omgangstaal deur die laer klasse gebruik is.[1] Aangesien die Anglo-Normandiese adellikes en die Engelse bevolking min kontak gehad het, het die Franse dialek aanvanklik min invloed op Engels uitgeoefen. Tussen 1066 en ongeveer 1120 is daar dus slegs 900 Anglo-Normandies woorde in Engels opgeneem.
Binne vyftig jaar het die twee bevolkingsgroepe egter begin vermeng. Normandiese soldate wat na Engeland gebring is, het aangebly en met Engelse vroue getrou, en die Engelse het gewoond geraak aan hulle heersers. Engelse dienaars moes die taal van hulle Normandiese here leer en kinders uit gemengde huwelike het tweetalig grootgeword. Ongeveer 10 000 Anglo-Normandiese en Sentraal-Franse woorde is sodoende voor die 15de eeu in Engels opgeneem. Die taal se invloed op Engels was veral sterk in gebiede soos godsdiens, regering, die reg, weermag, mode, onderwys, kultuur, sosiale lewe, kuns, kookkuns en medisyne.[1] As gevolg van die Normandiërs se Skandinawiese bande is ook Oud-Noorse woorde soos kanna (koppie) deur Anglo-Normandies as can in Engels opgeneem. Ander voorbeelde sluit in cabbage van caboche, fashion van faichon, mug van mogue, catch van cachi, cater van acater en baie ander.[4]
Alhoewel Anglo-Normandies slegs deur 'n klein deel van die Engelse bevolking gepraat is, het dit vier eeue lank oorleef en 'n groot invloed op die meerderheidstaal gehad as gevolg van die hoë prestige van die taal. Die Engelse kroon se verlies van Normandië in 1204, toe die Franse koning Filips II die Hertogdom van Normandië geannekseer het en die vastelandse Normandië van Normandiese Engeland geskei het, het egter die agteruitgang van die taal in Engeland ingelui.[4] In gesinne van Normandiese oorsprong, en selfs onder die koninklikes, was Anglo-Normandies baiekeer nie meer die kinders se moedertaal nie en is dit as 'n vreemde taal aan hulle geleer. Verder is die Sentraal-Frans van Parys van die 13de eeu af al hoe meer beskou as die taal van die onderwys en kultuur en is Anglo-Normandies as 'n snaakse Franse dialek beskou. Aangesien die taal se instandhouding juis van sy prestige afhanklik was, het die taal se ondergang dus waarskynlik vinnig plaasgevind. Sommige Anglo-Normandies leenwoorde is deur Sentraal-Franse woorde vervang.[1] Terselfdertyd was die prestige van die Engelse taal aan die opkoms danksy die verbeterende toestande van die Engelse werkersklas. Engels is nou ook as skryftaal en in regeringsdokumente gebruik. Teen die 14de eeu is Engels wyd gebruik en deur almal verstaan. Selfs in die koningshuis was Frans nie meer die moedertaal nie en Hendrik IV was die eerste Engelse koning wat net Engels gepraat het.
In behoudende kringe soos dié van sekere adellikes en kerklui asook in universiteite is pogings aangewend om die taal te behou. Dit het die aanleer van Frans as tweede taal ingelui asook reëls dat studente in Frans of Latyn met mekaar moes praat en parlementêre uitvaardigings dat adellikes hulle kinders Frans moes leer. Frans het egter geleidelik sy status as administratiewe en hoftaal verloor en teen die 15de eeu was dit 'n vreemde taal in Engeland. Vandag is die enigste oorblyfsels van die taal onder die Engelse kroon te vinde in die hoogs bedreigde tale van die Kanaaleilande: Auregnais, Guernésiais, Jèrriais en Sercquiais.[1]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ 1,0 1,1 1,2 1,3 1,4 England in the Middle Ages – A Medieval Tourist Guide, English-French language contact. URL besoek op 20 Mei 2007
- ↑ The Anglo-Norman On-Line Hub, [1] Geargiveer 27 Maart 2006 op Wayback Machine, besoek op 20 Mei 2007
- ↑ Van Dyke Shelly, Percy: English and French in England, 1066–1100. Doktorale tesis, Universiteit van Pennsylvanië, Philadelphia 1921, bl. 32