Nothing Special   »   [go: up one dir, main page]

Hierdie artikel handel oor die taal. Vir die etniese groep, sien Friese en vir ander moontlike betekenisse van die term, sien Fries (dubbelsinnig).

Die Fries wat vandag in Nederland gepraat word, is eintlik Westerlauwers Fries, maar in die algemeen word slegs die term Fries gebruik; of ook in Wes-Fries: Frysk, Noord-Fries Fresk of Frasch; en in die standaardtaal word ook as Friisk verwys. Standaardfries het ontwikkel uit Woudfries en Kleifries. In taalhistoriese opsig is Fries nou verwant aan Oud-Engels sodat daar soms ook na die Anglo-Friese taalgroep verwys word.[4]

Fries
Frysk / Fräisk / Frasch /
Fresk / Freesk / Friisk
Gepraat in: Vlag van Duitsland Duitsland
Vlag van Nederland Nederland 
Gebied: Friesland
Groningen
Nedersakse
Sleeswyk-Holstein
Totale sprekers: 500 000[1][2][3]
Taalfamilie: Indo-Europees
 Germaans
  Wes-Germaans
   Anglo-Fries
    Fries 
Skrifstelsel: Latynse alfabet 
Amptelike status
Amptelike taal in: Vlag van Duitsland Duitsland

Vlag van Nederland Nederland

Gereguleer deur: Fryske Akademie
Taalkodes
ISO 639-1: geen
ISO 639-2:
ISO 639-3: — 
Huidige verspreiding van Friese tale: ██ Noord-Fries ██ Saterfries ██ Wes-Fries

Die Friese taal word vandag deur sowat 500 000 mense in drie variante - Wes-, Oos- en Noord-Fries - langs die Nederlands-Duitse Noordseekus gepraat.

Die meeste Friessprekendes woon in die Noord-Nederlandse provinsie Friesland (Fryslân), terwyl kleiner taalgemeenskappe van Oos-Fries en Noord-Fries in die Duitse deelstate Nedersakse (op die dorp Saterland) en Sleeswyk-Holstein (in die administratiewe distrik Nordfriesland) bestaan. Duitsland en Nederland erken Fries as 'n inheemse minderheidstaal. Die taal word beskerm deur die Europese Unie.

Wes-Fries

wysig

Wes-Fries is een van die twee amptelike tale in Friesland. Friesland is vandag 'n provinsie van Nederland. In Friesland praat ongeveer 470 000 mense die taal, van wie 350 000 mense as 'n moedertaal. Wes-Fries is eintlik Westerlauwers Fries. In skole word Standaardfries geleer. In Friesland het Fries egter die funksie van 'n dialek omdat Fries meestal slegs as spreektaal gebruik word. Die dominante kultuurtaal in Friesland is Nederlands.

Onderverdeling

wysig
 
Die ou en huidige Friese taalgebied

Wes-Fries word onderverdeel in:

  • Westerlauwers Fries, wat weer onderverdeel kan word in:
  1. Kleifries (in die Kleistreek)
  2. Woudfries (in die Friese Wouden)
  3. Suidwesthoeks (in die Suidwesthoek)
  4. Hindeloopers (in Hindeloopen)
  5. Aasters en Westers (op resp. Oos- en Wes-Terschelling)
  6. Schiermonnikoogs of Eilanders (op Skiermonnikoog)
Op basis van Kleifries en Woudfries is een Standaardfries ontwikkeld, wat as onderwys- en bestuurstaal in Fryslân gebruik word.

Die Onse Vader in Standaardfries:

Us Heit
dy't yn de himelen is
Jins namme wurde hillige
Jins keninkryk komme
Jins wollen barre allyk yn 'e himel
sa ek op ierde
Jou ús hjoed ús deistich brea
En ferjou ús ús skulden
allyk ek wy ferjouwe ús skuldners
En lied ús net yn fersiking
mar ferlos ús fan 'e kweade
Want Jowes is it keninkryk en de krêft
en de hearlikheid oant yn ivichheid.

Die Friese taal self word in Westerlauwers Frysk genoem, in Noordfries: Friisk en in Saterfries: Fräisk.

Noord-en Oos-Fries

wysig
 
Tweetalige borde by 'n Duitse polisiekantoor in Husum, Noord-Friesland

In Duitsland word Noord-Fries in die mees noordelike deelstaat Sleeswyk-Holstein aan die grens met Denemarke gepraat. Alhoewel sowat 60 000 mense in Noord-Friesland van Friese afkoms is, het slegs sowat 10 000 mense kennis van Noord-Fries.

Oos-Fries of Osterlauwersfries was vroeër die taal van die huidige streek Oos-Friesland in die noordweste van die Duitse deelstaat Nedersakse. Die Oos-Friese het reeds omtrent die jaar 1500 na Nederduits as die skryftaal vir belangrike dokumente oorgeskakel, en tot by die begin van die 19de eeu het Oos-Fries sy status as omgangstaal verloor. Die laaste taalgebiede op die Duitse Noordsee-eilande het tot by die begin van die 20ste eeu bestaan.

Saterfries, wat deur sowat 2 000 mense in die Nedersaksiese dorp Saterland (Saterfries: Selterlound) naas Hoogduits gepraat en deur 'n bykomende 2 000 mense verstaan word, is die laaste oorblywende dialek van Oos-Fries. Aangesien die dorp Saterland vroeër 'n baie afgeleë nedersetting was, is Saterfries as 'n selfstandige taal tot vandag toe bewaar, alhoewel daar 'n groot aantal Nederduitse leenwoorde in Saterfries voorkom. Die taal word tans ook weer deur kinders aangeleer.[4] 'n Laerskool in Scharrel bied dubbelmediumonderrig in Duits en Saterfries vir kinders in graad 2 aan.

Klassifikasie

wysig

Fries toon kenmerke wat met Nederlands en Engels ooreenstem. Groot getalle Friese, Angele, Sakse en Jute het tydens die volksverhuising na die Britse Eilande geëmigreer waar toe Kelte gewoon het. Tussen 800 en 1100 het ook Wikings na die Britse Eilande verhuis. Uit die samesmelting van hierdie volkere sou moderne Engels ontwikkel. Ooreenkomste tussen Fries en Engels is byvoorbeeld woorde as grien, tsiis, tsjerke, sykje, dream, troch vir groen, kaas, kerk, soek, droom, deur (= Eng. 'through').

Verwysings

wysig
  1. "Ethnologue: Languages of the World, Seventeenth edition, Frisian, Northern" (in Engels). Ethnologue. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Junie 2019. Besoek op 6 April 2016.
  2. "Ethnologue: Languages of the World, Seventeenth edition, Frisian, Western" (in Engels). Ethnologue. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Mei 2020. Besoek op 6 April 2016.
  3. "Ethnologue: Languages of the World, Seventeenth edition, Saterfriesisch" (in Engels). Ethnologue. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Julie 2019. Besoek op 6 April 2016.
  4. 4,0 4,1 (de) "Die friesischen Sprachen (Nordfriesisch und Saterfriesisch)". Niedersächsisches Ministerium für Inneres und Sport. Besoek op 6 April 2016.[dooie skakel]

Eksterne skakels

wysig
Indo-Europese tale: Kentum-tale: Germaanse tale
Noord-Germaanse tale:
Deens | Faroëes | Noors (Bokmål, Nynorsk) | Sweeds | Yslands
Wes-Germaanse tale:
Afrikaans | Duits | Engels | Fries (Noord-Fries, Oos-Fries/Saterfries, Wes-Fries) | Jiddisj | Limburgs | Luxemburgs | Nederduits | Nederlands (Oos-Vlaams, Wes-Vlaams) | Nedersaksies (Wes-Veluws) | Skots
Oos-Germaanse tale:
Boergondies (†) | Goties (†) | Vandaals (†)