Witwyn
Witwyn word - in teenstelling met rooiwyn - meesal van wit druiwe gemaak. Ook die produksiemetode verskil van dié van rooiwyn. Hierby word die druiwesap sonder die skille en stingels gefermenteer.
Aangesien die skille naastenby eenhonderd persent van die druiwe se kleurstowwe bevat, is dit eweneens moontlik om witwyn van rooi druiwe te maak. Hierby word die druiwe vinnig na die wyngoed geneem en gepers. Skille en sap word onmiddellik daarna van mekaar geskei.
Witwyn, wat van rooi kultivare gemaak is (veral uit die omgewing van Bordeaux), word Claret (Frans: Clairet) genoem. Blanc de Noir is 'n Franse wyn uit die Champagnestreek, wat eweneens van rooi druiwe gepers word.
Witwynproduksie
[wysig | wysig bron]Gewoonlik word die sap van wit druiwe sonder skille en stingels gefermenteer - dit wil sê suiker word in 'n natuurlike proses na alkohol omgeskakel, terwyl koolsuur (koolstofdioksied) vrygestel word.
Naas wit kan ook rooi druiwe vir die produksie van witwyn gebruik word; hierdie soort witwyne word dikwels Blanc de Noirs (Frans, letterlik "Wit (wyn) uit swart (druiwe)") genoem. Franse sjampanje word byvoorbeeld grotendeels van rooi druiwe van kultivars soos Pinot Noir en Pinot Meunier gemaak. Aangesien slegs die druiweskille rooi kleurstowwe bevat, kry wyn net 'n rooi kleur wanneer hierdie kleurstowwe tydens die fermentasieproses deur alkohol vrygesit word. Darnaas speel ook die druiwesap en suiker 'n belangrike rol by die proses. Vir rooiwyn word dus ook die druiweskille 'n tyd lank gefermenteer sodat hulle hul kleurstowwe aan die druiwesap kan oordra.
Witwyn word teen temperature van tussen 15 en 18 °C gefermenteer; die fermentasieproses word sodoende verleng om ligte witwynsoorte te verkry. Die fermentasie teen hoër temperature van tot by 30 °C lewer daarenteen voller en ryker witwyne op. Ná die fermentasieproses word wyn en gis van mekaar geskei. Hierna word die witwyn gefiltreer en gebottel.