Remonstrante
Die Remonstrante (of die Broederskap van Remonstrante) is 'n Protestantse beweging wat in die vroeë 17de eeu van die Nederduits Gereformeerde Kerk weggeskeur het. Die vroeë Remonstrante het Jacobus Arminius gesteun en ná sy dood voortgegaan met die handhawing van sy oorspronklike siening teen die voorstanders van Calvinisme. Die Remonstrante is veroordeel deur die Sinode van Dordrecht (1618-1619) en het gevolglik 'n klein minderheid in Nederland gebly. In die middel van die 19de eeu is die Broederskap van die Remonstrante beïnvloed deur die liberale Nederlandse teologiese beweging.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Stigting
[wysig | wysig bron]By die formulering van Arminianisme was Jacobus Arminius dit nie eens met Calvyn nie, veral betreffende die uitverkiesingsleer.
In 1610 het die volgelinge van Arminius Vyf Artikels van Remonstransie aan die State van Holland en Friesland voorgelê wat hul meningsverskille met die Calvinisme soos aangeneem deur die Nederduits Gereformormeerde Kerk geformuleer het. [1] Ondersteuners van Arminius word "Remonstrante" of "Arminiane" genoem.
Hulle teëstanders, geïnspireer deur Franciscus Gomarus, het bekend geword as Gomariste of Teen-Remonstrante. [1] Alhoewel die State-Generaal van Nederland 'n edik uitgereik het wat beide partye verdra en verdere geskille verbied het, het die konflik voortgeduur [1] en is dit aan die politieke konflikte in die Nederlandse Republiek gekoppel. Die Remonstrante is aangeval deur persoonlike vyande en deur die politieke maneuvers van Maurice van Nassau. [1] Hul voorste bondgenoot, Johan van Oldenbarnevelt, is tereggestel, en ander leiers is gevange geneem.
In 1618–19 het die Sinode van Dordrecht, nadat hulle die dertien Arminiaanse predikante onder leiding van Simon Episcopius uitgesluit het, die oorwinning van die Calvinistiese skool bevestig. [1] Dit het drie-en-negentig kanonieke reëls opgestel en die gesag van die Belgiese Belydenis en die Heidelbergse Kategismus bevestig. [1] Die Sinode se bevinding is afgedwing deur die afsetting en in sommige gevalle verbanning van Remonstrant-priesters. [1] As gevolg van die gebrek aan predikers het daar in Warmond 'n beweging ten gunste van lekepredikers ontstaan, waarvan die aanhangers die Genootskap van Kollegiante gestig het. [2] 'n Ballinggemeenskap van Remonstrante is in 1619 in Antwerpen op die been gebring. In 1621 is hulle toegelaat om hulle in Sleeswyk te vestig, waar hulle Friedrichstadt gebou het. [1]
Institusionalisering
[wysig | wysig bron]Die leer van die Remonstrante is in 1621 beliggaam in 'n Remonstrante Belydenis [3] wat geskryf is deur Episcopius, hul vernaamste teoloog. Hierdie belydenis dien sedert die terugkeer van die Remonstrantekerk na Nederland in 1626 as sy basis. Dit bevestig die mening wat die Remonstrante reeds in 1618 uitgespreek het. [4]
Jan Uytenbogaert het die Remonstrante van 'n kategese voorsien en hul kerkorde gereguleer. [1] Hulle seminarie in Amsterdam het oor uitgelese leerlinge beskik, insluitende Stephan Curcellaeus, Philipp van Limborch, Johann Jakob Wetstein en Jean Leclerc. Hulle teologieskool, wat aldra meer liberaal en selfs meer rasioneel geword het, het die amptelike Nederduits Gereformeerde staatskerk en ander Christelike denominasies met oortuiging bespreek. [1]
Na die dood van Maurice van Oranje in 1625 het sommige ballinge teruggekeer. Die regering het oortuig geraak dat hulle geen gevaar vir die staat inhou nie, en in 1630 is hulle formeel toegelaat om weer in alle dele van die Republiek te woon. [1] Hulle kon egter tot die oprigting van die Bataafse Republiek in 1795 nie amptelik kerke bou nie. Vir eers het hulle hul dienste in sogenaamde "Schuilkerke" en huiskerke gehou. [5]
Liberalisme
[wysig | wysig bron]In die middel van die 19de eeu is die Broederskap van Remonstrante deur liberalisme beïnvloed, [6] [7] wat in Holland beliggaam is deur Petrus Hofstede de Groot (1802-1886). Sy teologie het 'n wye aanhang in Europa gehad, wat kenmerkend is van die romantiese fase van Christelike humanisme; in Nederland word hierdie gedagtegang sedert 1830 deur die "teoloë van Groningen" beliggaam.
De Groot het die doel van hierdie beweging, waarvan hy die leier was, opgesom deur te skryf dat "die belangrikste ding in Christendom die openbaring en die opvoeding soos gegee deur God in Jesus Christus is, ten einde ons toenemend in die beeld van ons Skepper te maak". Die "Groningers" het die leerstelling van die Drie-eenheid, uitverkiesing en die versoenende geregtigheid van God verwerp. Hulle het die dubbele goddelike en menslike aard en die vermoë van die mens om God se wil met sy hulp te verwesenlik, erken.
Die vroeë Remonstrante se teologiese nalatenskap
[wysig | wysig bron]Die meeste van die vroeë remonstrante het klassieke Arminianisme gevolg. [8] Hulle is egter nie die enigste Protestante wat as Arminiane beskou kan word of wat Arminiane genoem word nie. Arminianisme is 'n minderheid in die Gereformeerde belydenis, maar dit behoort eintlik tot die groter stroom van sinergisme. Dit het as Arminianisme die Kerk van Engeland binnegedring. As 'n breër sinergisme kom dit voor in Metodisme, die Algemene Baptiste, die Adventiste Kerk, die Charismatiese beweging, en 'n aantal ander Protestantse denominasies.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ 1,00 1,01 1,02 1,03 1,04 1,05 1,06 1,07 1,08 1,09 1,10 Chisholm 1911.
- ↑ Schaff & Herzog 1953, Hfst. 2.
- ↑ Episcopius & Ellis 2005.
- ↑ DeJong 1968, pp. 220-.1. dat die goddelike besluit van uitverkiesing voorwaardelik is en nie absoluut nie; 2. dat die versoening in bedoeling universeel is; 3. dat die mens nie self 'n reddende geloof kan beoefen nie; 4. dat alhoewel die genade van God 'n noodsaaklike voorwaarde van menslike inspanning is, dit nie onweerstaanbaar in die mens optree nie; en 5. dat gelowiges in staat is om sonde te weerstaan, maar nie onbevlek en sonder sonde is nie.
- ↑ Benedict 2008, p. 313.
- ↑ Zijpp 1959.
- ↑ Olson 2012. Ek laat [as raamwerk vir die definisie van Arminianisme] "Arminiane van die kop" heeltemal weg, dit wil sê die Remonstrante en hul afstammelinge wat verval het in rasionalisme, deïsme en liberalisme. Vir die grootste deel het hulle in elk geval opgehou om as Arminiane te identifiseer.
- ↑ Olson 2012, ..
Bronne
[wysig | wysig bron]- Benedict, Philip (2008). Christ's Churches Purely Reformed: A Social History of Calvinism (in Engels). ISBN 978-0300127225.
- DeJong, Peter (1968). "The Opinions of the Remonstrants (1618)". Crisis in the Reformed Churches: Essays in Commemoration of the Great Synod of Dordt, 1618-1619 (PDF) (in Engels). Grand Rapids: Reformed Fellowship.
- Episcopius, Simon; Ellis, Mark A. (2005). The Arminian confession of 1621 (PDF) (in Engels). Eugene: Pickwick Publications.
- nu.nl (2011). "Kerken komen uit de kast in boek" (in Nederlands). nu.nl. Besoek op 22 September 2019.
- LBR (2019). "Belijdenis" (in Nederlands). Landelijk Bureau Remonstranten. Besoek op 15 Augustus 2019.
- LBR (2015). "Remonstrant Church" (in Engels). Landelijk Bureau Remonstranten. Besoek op 23 Januarie 2016.
- LBR (2016). "Deel 2 Commissie tot de Zaken - Activiteiten" (PDF) (in Nederlands). Landelijk Bureau Remonstranten. Besoek op 15 September 2019.
- Olson, Roger E. (2012). "Who Is (or Might Be) an Arminian?". Roger E. Olson: My evangelical, Arminian theological musings (in Engels). Patheos. Besoek op 27 Augustus 2019.
- Trouw.nl (2010). "Remonstranten en Boomsma krijgen homo-emancipatieprijs - Nieuws - TROUW" (in Nederlands). Trouw.nl. Besoek op 9 September 2012.
- "Remonstrants". The New Schaff-Herzog Encyclopedia of Religious Knowledge 9. (1953). Grand Rapids: Baker.
- Zijpp, Nanne van der (1959). "Remonstrants". Global Anabaptist Mennonite Encyclopedia Online (in Engels).
Verdere leeswerk
[wysig | wysig bron]- Aken, Lucie J N K van, 1947. De Remonstrantse Broederschap in Verleden en Heden. Historische Schets, Arnhem: Van Loghum Slaterus
- Brouwers, J F e.a. (red), 2005. Wat We Nog Weten. Amsterdamse Remonstranten in de 20ste eeuw. 375-jarig Bestaan Remonstrantse Gemeente Amsterdam, Amsterdam: Remonstrantse Gemeente Amsterdam
- Barnard, T, 2006. Van verstoten kind tot belijdende kerk: de Remonstrantse Broederschap tussen 1850 en 1940, Amsterdam: De Bataafsche Leeuw
- Barnard, T en E Cossee, 2007. Arminianen in de Maasstad: 375 jaar Remonstrantse Gemeente Rotterdam, Amsterrdam: De Bataafsche Leeuw
- Cossee, E, 1988. Abraham des Amorie van der Hoeven, 1798-1855: een Remonstrants theoloog in de Biedermeiertijd, Kampen: Kok
- Cossee, E, Th M van Leeuwen, M A Bosman-Huizinga, 2000. De remonstranten, Kampen: Kok
- Episcopius, Simon, 1627. Vrye godes-dienst, of t'Samen-spreeckinghe tusschen Remonstrant en Contra-Remonstrant, over de vrye godts-dienstighe vergaderinghen der Remonstranten.: Met wederlegginge van Douchers oproerighe predicatie: C. Dungani redeloose salvatien, &c.
- Goud, J en K Holtzapffel (red), 2004. Wij Geloven - Wat Geloven Wij?. Remonstrants Belijden in 1940 en Nu. Zoetermeer: Meinema
- Keune, W T, C Ginjaar, J Schaafstra, 1978. Doopsgezind en Remonstrant in Dokkum, Van der Helm
- Sirks, G J, 1955. Verantwoording en verantwoordelijkheid van ons Remonstrant-zijn, Lochum: De Tijdstroom
- Slis, P L, 2006. De Remonstrantse Broederschap: Biografische Naamlijst, 1905-2005 : Gemeenten, Landelijke Organen, Predikanten en Proponenten, Publicaties, Eburon
- Vuyk, Simon, 2002. De Dronken Arminiaanse Dominee. Over de Schaduwzijde der Verlichte Remonstranten, Amsterdam: De Bataafsche Leeuw