Knoet die Grote
Knoet die Grote | |
---|---|
Koning van Denemarke, Noorweë en Engeland | |
Huis | Jelling |
Titel | Koning van Denemarke |
Regeer | 1018–1035 |
Voorganger | Harald II |
Opvolger | Hartaknoet |
Titel | Koning van Noorweë |
Regeer | 1028–1035 |
Voorganger | Olaf die Heilige |
Opvolger | Magnus I |
Titel | Koning van Engeland |
Regeer | 1014 + 1016–1035 |
Voorganger | Edmund Ironside |
Opvolger | Harold Haasvoet |
Eggenote | Elgifa van Northampton Emma van Normandië |
Kinders | Sven Knoetsson Harold Haasvoet Hartaknoet Gunhilda van Denemarke |
Gebore | c. 985 – c. 995; Denemarke |
Oorlede | 12 November 1035; Engeland |
Vader | Sven Vurkbaard |
Moeder | Gunhilda |
Knoet die Grote (of Kanoet die Grote; Deens: Knud den Store, Engels: Canute the Great, Noors: Knut den Store; c. 995 – 12 November 1035) was tot met sy dood koning van Engeland, Denemarke en Noorweë en goewerneur van Sleeswyk en Pommere. Hy was die seun van Sven Vurkbaard en sy vrou, Gunhilda.
Invalle in Engeland
[wysig | wysig bron]Knoet het sy pa gehep om Engeland in Augustus 1013 binne te val en is ná sy pa se dood in Februarie 1014 deur die Deense vloot tot koning van Engeland uitgeroep. Toe die Engelse adel die verslane koning Ethelred II weer op die troon plaas, het Knoet egter na Denemarke teruggekeer.
In Augustus 1015 het hy Engeland weer binnegeval en ’n paar onbesliste veldtogte teen Ethelred gevoer en vanaf April 1016 teen dié se seun Edmund Ironside. In Oktober 1016 het Knoet die Engelse by Ashingdon in Essex verslaan. Hy en Edmund het ooreengekom om die ryk te verdeel, maar in November is Edmund dood. Knoet het toe die enigste heerser geword.
Koning van Engeland
[wysig | wysig bron]In 1017 het Knoet Engeland in vier groot graafskappe verdeel, nes hy in Denemarke gedoen het. Dié graafskappe was Wessex, Mercië, Oos-Anglië en Northumbrië. In 1018 het Knoet veilig genoeg gevoel om sy vloot terug te stuur Denemarke toe.
Om hom aan die ou Engelse monargie te verbind en hom te beskerm teen aanvalle deur Normandië (waar Ethelred sy Normandiese vrou, Emma, en hul seun, Eduard, in 1013 tydelik gelos het), het Knoet met Emma, die dogter van die Hertog van Normandië, getrou. Omdat Normandië Christelik was, het Knoet hom amptelik tot die Christendom bekeer. Sy ma was ’n Christen, maar sy pa, Sven Vurkbaard, ’n heiden. Knoet het by Emma sy seun en opvolger Hartaknoet gehad.
Koning van Denemarke
[wysig | wysig bron]In 1018 het Knoet sy ouer broer Harald II opgevolg as koning van Denemarke en in 1028 het hy Noorweë vanuit Engeland verower. Die Nore het egter gerebelleer en die ou dinastie onder Magnus I weer op die troon geplaas.
Keiser Koenraad II van die Heilige Romeinse Ryk was met Knoet bevriend en het sy seun Hendrik met Knoet se dogter Gunhilda laat trou. Die keiser het Knoet ook goewerneur van Sleeswyk en Pommere gemaak.
Knoet word oor die algemeen beskou as ’n wyse en suksesvolle koning, maar dié beeld kom dalk van die feit dat hy die kerk baie goed behandel het en die meeste geskiedskrywers van dié tyd monnike was.
Dood en opvolging
[wysig | wysig bron]Knoet is op 12 November 1035 in Shaftesbury, Dorset, dood en is in Winchester begrawe. Hy is in Denemarke opgevolg deur sy seun Hartaknoet. Sy ander seun, Harold by sy eerste vrou, Elgifa van Northampton, het hom in Engeland opgevolg, maar ná Harold se dood in 1040 het Hartaknoet koning van albei ryke geword.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Nederlandse Wikipedia-artikel nl:Knoet de Grote