Nothing Special   »   [go: up one dir, main page]

Gaan na inhoud

Bloubaard

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Bloubaard gee sy vrou die sleutelbos. Illustrasie deur Gustave Doré.

Bloubaard was ’n gewelddadige edelman in ’n ou Franse volksverhaal. Hy is etlike kere getroud en het telkens sy vrou om die lewe gebring.[1] Die verhaal is deur Charles Perrault in sy boek Die mooiste sprokies van moeder gans (1697) opgeteken.[2]

Storie

[wysig | wysig bron]

Bloubaard is 'n ryk, maar skrikwekkende man met 'n groot blou baard. Al die jong meisies is doodbang vir hom. Hy is al 'n paar keer getroud, maar niemand weet wat van sy vorige vroue geword het nie. Hy bevriend twee jong susters in die buurt, maar nie een wil met hom trou nie. Hy trakteer hulle in oorvloed by sy herehuis, waarna die jonger suster ingee en besluit om hom as man te vat. Kort na die troue (en voordat hy na 'n ver land op besigheid reis) gee Bloubaard sy vrou die sleutels van sy huis. Een van die sleutels is vir 'n geheime kamer in die kelder, maar hy verbied haar om binne te gaan.

Toe Bloubaard sy rug draai, sluit sy die verbode kamer oop. Sy tref al sy vorige vroue dood en bloedbelope op die vloer aan. In skok laat sy die sleutel val. Die sleutel is getoor en word met bloed bevlek wat nie kan afwas nie.

Met sy terugkeer ontdek Bloubaard die bebloede sleutel en weet sy vrou het sy opdrag verontagsaam. Hy vertel haar dat sy haar plek tussen die dooies sal inneem, en gee haar 'n paar minute om te bid. Sy roep haar suster Anne en vra haar om op die toring te klim en te kyk of haar broers op pad is. Ná 'n paar gespanne oomblikke, rapporteer Anne dat sy die mans kan sien.

Bloubaard lig se swaard om haar te onthoof. Haar broers bars net betyds die kamer in en steek Bloubaard dood. Hulle suster is uiteindelik veilig.

Interpretasie

[wysig | wysig bron]

Die storie kan op verskillende maniere geïnterpreteer word. Bloubaard word dikwels as 'n reeksmoordenaar voorgestel, 'n soort monster. Soms word die jong vrou vir haar nuuskierigheid en inmenging veroordeel, wat haar lewe in gevaar stel.

Die ruimtelike aspek van die sprokie is egter van groot belang. Die geslote kamer is 'n simbool vir die geheime, leuens ens. wat binne elke verhouding bestaan, selfs tussen 'n man en vrou.

Fotogalery

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  2. Afrikaanse vertaling van Les contes de ma Mere l'Oie deur André P. Brink. Human & Rousseau, 1967, OCLC 637357535

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]