Beaconsfield
Beaconsfield | |
---|---|
Koördinate: 28°45′25.2″S 24°46′55.2″O / 28.757000°S 24.782000°O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Noord-Kaap |
Distrik | Frances Baard |
Munisipaliteit | Sol Plaatje |
Hoofplek | Kimberley |
Oppervlak | |
• Totaal | 1,68 km2 (0,65 vk. myl) |
Bevolking (2011)[1] | |
• Totaal | 5 494 |
• Digtheid | 3 270/km2 (8 500/vk. myl) |
Rasverdeling (2011) | |
• Wit mense | 45,3% |
• Indiërs/Asiërs | 1,4% |
• Bruin mense | 28,3% |
• Swart mense | 24,5% |
• Ander | 0,5% |
Taal (2011) | |
• Afrikaans | 68,4% |
• Engels | 14,9% |
• Tswana | 8,5% |
• Xhosa | 2,3% |
• Ander | 5,9% |
Poskode (strate) | 8301 |
Poskode (posbusse) | 8315 |
Beaconsfield is 'n groot voorstad in die suidoostelike uithoek van Kimberley, die hoofstad van die Noord-Kaap, Suid-Afrika. Dit was 'n afsonderlike munisipaliteit tot dit feitlik deel geword het van die aanliggende Diamantstad vanweë die snelle uitbreiding van laasgenoemde en toe in 1912 amptelik ingelyf is by Kimberley se munisipale gebied. Die Sewendedagadventistekerk in Suider-Afrika het in 1887 in Beaconsfield ontstaan.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Beaconsfield lê noordoos van Kimberley se stasie en aan die spoorlyn tussen die Kaap, Johannesburg en Zimbabwe. Die dorpsgebied het ontstaan vanweë die ontdekking van diamante in 1870 op die plaas Dorsfontein. Dit het eers bekendgestaan as Dutoitspan, vandag nog die naam van die plaaslike NG gemeente wat in 1872 hier gestig is, nes die NG gemeente Kimberley in Newton in die stad self. Dutoitspan is genoem na Abraham Paulus du Toit, die eienaar van die plaas, en 'n laagliggende pan in die nabyheid van die opstal. Die myn, soos die NG gemeente hier, dra nog die naam Dutoitspan, maar die dorpsgbied is later Beaconsfield genoem ter ere van lord Beaconsfield, die indertydse Britse premier.
In die middel van die 20ste eeu en daarna is talle van die krotbuurte in Beaconsfield opgeruim. 'n Interessante kenmerk van die voorstad is die gebruik van die woord "plek" (Engels: place) pleks van "weg" of "straat" by straatname. So is die NG kerk Dutoitspan byvoorbeeld geleë op die hoek van Rose- en Dyerplek. Die destydse magistraatshof en aanliggende tronk het later onderskeidelik die pos- en polisiekantoor geword. Die munisipale biblioteek is nog 'n gebou in 'n vroeë argitektoniese styl. Beaconsfield het talle geskiedkundige kerkgeboue. All Saints was die eerste permanente Anglikaanse kerk in Kimberley, terwyl die kerk van die Sewendedagadventiste, opgerig van sinkplate op die hoek van Blackingstraat en Dyerplek, die eerste kerk van dié kerkverband in Suid-Afrika was en dus die moederkerk daarvan in Afrika sowel as Australië.
Sewendedagadventisme
[wysig | wysig bron]Pieter Wessels, eienaar van die plaas Benoudheidsfontein, het in 1885 uit die Gereformeerde Kerk bedank om Saterdag as die sabbatdag waar te neem. Eindelik het agt gesinne sy voorbeeld gevolg, onder wie ook N.J. de Beer, oudste seun van Johannes Nicolaas de Beer, aan wie De Beers Consolidated Mines sy naam te danke het. 'n Mynwerker, William Hunt, van die Amerikaanse deelstaat Nevada, het nadat hy op die diamantveld aangekom het uit Australië, die afgesonderde geloofsgemeenskappie aan Sewendedagadventisme bekendgestel en later het Amerikaanse predikante na die diamantveld gekom om hulle te bedien. In die tyd toe die sinkkerk gebou is, het Wessels sy plaas vir £350 000 aan die De Beers-maatskappy verkoop en daarna is dit Wesselton-myn genoem. Sewendedagadventisme het wêreldwyd hierby baat gevind danksy skenkings van Wessels en so kon die beweging in 13 afdelings in talle wêrelddele georganiseer word.
Wessels en sy broer het sendingwerk onder swart mense gereël, die oprigting van die kerkgebou in Roelandstraat, Kaapstad, gefinansier asook die Kellogg-sanatorium in die VSA en 'n tehuis vir gevalle meisies in Chicago. Hunt het later teruggekeer na Australië, waar hy die baanbreker van die Sewendedagadventisme was. In Rhodesië het Cecil John Rhodes grond aan dié kerkverband geskenk.
Demografie
[wysig | wysig bron]Vir sensusdoeleindes beslaan Beaconsfield 1,68 km². In 2011 was die inwonertal 5 494, van wie 45,3 persent (2 490) wit was, 23,3 persent bruin en 24,5 persent swart. Afrikaans was verreweg die grootste huistaal met 68,4 persent sprekers, gevolg deur Engels met 14,9 persent en Setswana met 8,5 persent.[1]
Bron
[wysig | wysig bron]- (en) Potgieter, D.J. 1971. Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Kaapstad: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery.
Sien ook
[wysig | wysig bron]- Lady Florence Phillips
Verwysings
[wysig | wysig bron]