Borsig-toring
Borsig-toring Borsigturm | |
---|---|
Die Borsig-toring omstreeks 1924
| |
Amptelike hoogte | 65 m |
Verdiepings | 11 |
Stad | Berlyn, Duitsland |
Opgerig | 1922 tot 1924 |
Argitek | Eugen Schmohl |
Toeganklik vir publiek | Nee |
Die Borsig-toring, 'n staalskelet-gebou met baksteenfasades wat in die klassieke moderne boustyl met Romaanse en Neo-Gotiese elemente uitgevoer is, was die eerste wolkekrabber in die Duitse hoofstad Berlyn wat tussen 1922 en 1924 ver buite die stadsentrum op die fabrieksterrein van die Borsigwerke, destyds die voorste Europese vervaardiger van lokomotiewe, in Tegel ontstaan het.
In teenstelling met ander hoë geboue wat destyds deur Berlynse maatskappye opgerig is – soos die Werner-werktoring in Berlyn-Siemensstadt en die Ullstein-toring – is die Borsig-toring nie as 'n indrukwekkende fasade vir skoorstene en waterhouers beplan nie, maar het as gewone kantoorgebou gedien. Die besluit om 'n wolkekrabber op te rig het uit die beperkte terrein in Tegel voortgespruit. Die maatskappy Borsig, wat in 1827 deur August Borsig net voor die Oranienburger Tor (Oranienburgse Poort) gestig is, het binne enkele dekades tot die grootste vervaardiger van lokomotiewe gegroei en sy fabrieksterrein in 1894/1895 na Tegel, destyds 'n noordelike voorstad van Berlyn, verskuif. Die terrein is drie jaar later ingewy.
Die toring met 'n hoogte van 65 meter beslaan 20 by 16 meter op die grond en is deur die argitek Eugen Schmohl ontwerp wat 'n kort tyd later ook die Ullstein-huis vir die gelyknamige uitgewery in Berlyn-Tempelhof gebou het. Schmohl het vermoedelik die toring van die Werner-fabriek in Berlyn-Siemensstadt, wat volgens 'n ontwerp van Hans Hertlein in 1917 ontstaan het, maar ook Amerikaanse wolkekrabbers as voorbeelde vir sy toring geneem.
Die Borsig-toring was die eerste nywerheidsgebou in Berlyn wat deur ekspressionistiese vormgewing beïnvloed is. Die maatskappy Borsig, wat altesaam 14 000 lokomotiewe vervaardig en na alle wêrelddele uitgevoer het,[1] het in 1929 'n slagoffer van die Groot Depressie geword, en die Borsig-gesin was genoodsaak om hul onderneming te verkoop. Daar bestaan steeds 'n maatskappy met die oorspronklike naam, tog is die fabrieksterrein in Tegel lankal gesluit. Die toring is in die 1970's gerenoveer en dien steeds as kantoorgebou. Dit is nie toeganklik vir die publiek nie. Rondom die Borsig-toring het 'n uitgestrekte sakesentrum ontstaan, terwyl die oorspronklike Borsig-lokomotiewewerkswinkel in 'n moderne winkelsentrum omgeskep is.
Verwysings
[wysig | wysig bron]Bronliteratuur
- Arnt Cobbers: Architekturführer. Die 100 wichtigsten Bauwerke Berlins. Berlyn: Jaron 2006