Nothing Special   »   [go: up one dir, main page]

Gaan na inhoud

Sofi Oksanen

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie



Sofi Oksanen

Fins-Estniese skryfster


Romans

Stalinin lehmät
Baby Jane
Puhdistus
Kun kyyhkyset katosivat

Sofi Oksanen (* 7 Januarie 1977 in Jyväskylä, Finland) is 'n Fins-Estniese skryfster en dramaturg. Sy het dramaturgie aan die Teaterakademie in Helsinki gestudeer en woon met haar man steeds in die Finse hoofstad. Sofi Oksanen het vier romans en een toneelstuk geskryf. Haar derde roman Puhdistus ("Vegevuur") het weke lank boaan die Finse trefferlys van boeke gestaan en is met 'n aantal literatuurpryse bekroon. Die werk het ook aanklank by internasionale kritici gevind en is intussen in veertig tale vertaal. Net in Estland is Oksanen daarvan beskuldig dat sy 'n negatiewe beeld van dié Baltiese land skep.[1]

Sofi Oksanen is as dogter van 'n Finse elektrisiën en 'n Estniese ingenieur in die Sentraal-Finse stad Jyväskylä gebore waar sy tweetalig grootgemaak is. Die gesin het verskeie kere na Estland gereis. Oksanen het ná haar skoolloopbaan literatuurwetenskap aan die universiteite van Jyväskylä en Helsinki gestudeer en later nog 'n graad in dramaturgie verwerf. Alhoewel haar moedertaal Estnies is, het Sofi Oksanen vir Fins as haar literêre taal gekies. Sy lees nogtans Estniese literatuur.

Oksanen neem aktief aan politieke debatte in Finland deel en lewer in haar rubrieke en in televisie-geselsprogramme kommentaar op aktuele onderwerpe. Sy is 'n feminis.

Literêre werk

[wysig | wysig bron]

Stalinin lehmät ("Stalin se koeie")

[wysig | wysig bron]

Oksanen se debuutroman Stalinin lehmät het in 2003 in Fins verskyn. In hierdie boek behandel sy onderwerpe soos eetversteurings en die lewe van Estniese immigrante in Finland in die 1960's en 1970's - 'n tydperk toe Finland se buitelandse beleid goedgesind teenoor die Sowjetunie was. Hierdie model, waardeur 'n westers-demokratiese land sy Atlantiese bande prysgegee het om in politieke en ekonomiese opsig vriendskaplike bande met Moskou te smee, is destyds as "Finlandisering" beskryf.

Estniese immigrante is in Finland destyds dikwels as "Russe" afgemaak, Estniese vroue met prostitusie geassosieer. Oksanen bevraagteken in haar werk die Nordiese konsep van gelyke regte vir almal. Die boek is as kandidaat vir die Runeberg-prys en die debuutromanprys van die Finse dagblad Helsingin Sanomat genomineer.

Baby Jane

[wysig | wysig bron]

Oksanen se tweede roman Baby Jane het in 2005 verskyn. Angs en paniese aanvalle, die reaksie van medemense daarop en geweld in verhoudings tussen vroue staan sentraal in hierdie werk. In teenstelling met Oksanen se twee ander romans speel Baby Jane in Finland af (in Helsinki in die 1990's).

Puhdistus ("Vegevuur")

[wysig | wysig bron]

Met haar eerste toneelstuk Puhdistus het Oksanen in 2007 haar deurbraak in Finland behaal, terwyl die gelyknamige roman een jaar later ook in die buiteland suksesvol was. Die toneelstuk kon voordeel uit hierdie sukses trek en het in 2011 en 2012 in 'n aantal lande premières beleef.

In tematiese opsig sluit Puhdistus by Oksanen se debuutroman aan en speel weer in Estland af. Dit behandel weereens 'n periode in die Estniese geskiedenis, waarby die handeling tot enkele dae in 1992 beperk bly. Die twee vroulike protagoniste verbeeld teenpole - oud teen jonk, Estnies teen Russies, Inheems teen nuwe aankomeling. Met uitsondering van die eerste teenstelling bly geen van hierdie verskille bestaan nie. Alhoewel ooreenkomste belangriker word as verskille, is daar nòg in die roman nòg in die toneelstuk 'n gelukkige slot nie.

Die boek is intussen deur die Finse regisseur Antti Jokinen verfilm, Marko Leino het die draaiboek geskryf. Die fliek is in Finse en Estniese rolprentteaters vertoon.

Kun kyyhkyset katosivat ("Toe die duiwe verdwyn het")

[wysig | wysig bron]

Oksanen se vierde roman het in September 2012 in twaalf lande verskyn.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Sofi Oksanen kommt nach Deutschland. In: Baltische Rundschau, 16 September 2012". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Oktober 2012. Besoek op 15 Oktober 2012.