Duitse letterkunde
Die Duitse letterkunde verwys na alle literêre werke wat in Duits geskryf is. Dit sluit die literatuur van Oostenryk, die Duitstalige Switserse literatuur en die Duitstalige literatuur van Duitsland in.
Middeleeue (750-1500)
[wysig | wysig bron]750–1100
[wysig | wysig bron]In die vroeë Middeleeue is verhale slegs mondelings oorgedra. Slegs die Hildebrandslied en die Germaans-heidense Merseburger towerspreuke is bekend van hierdie Oudgermaanse poësie.
Tot omstreeks 1000 is die Oud-Hoogduitse letterkunde deur die Christendom oorheers. Veral glosse en vertalings uit Latyn het 'n groot rol gespeel, naas Bybelse eposse – nog in die ou stafrympie – soos die Heliand en die Liber evangeliorum van Otfrid von Weißenburg. In die elfde eeu is vroeë Middel-Hoog-Duitse godsdienstig-moralistiese tekste geskryf, hoofsaaklik bedoel vir adellike leke, soos die Ezzolied (omstreeks 1065) en legendes soos die Annolied (omstreeks 1077).
1100–1250
[wysig | wysig bron]In die twaalfde eeu is die aantal temas in die letterkunde uitgebrei om sekulêre materiaal (insluitend die Rolandslied) in te sluit, en hoflike poësie het sy debuut gemaak met Hendrik van Veldeke (Duits: Heinrich von Veldeke, hy word as deel van sowel die Nederlandse as die Duitse letterkunde beskou).
Minnesang het in hierdie tydperk uit populêre liefdeslirieke ontstaan, met Heinrich von Morungen, Hartmann von Aue en Walther von der Vogelweide as die belangrikste verteenwoordigers daarvan. Na die Franse voorbeeld (Chrétien de Troyes), is hoflike eposse geskep soos Erec (Hartmann von Aue), Tristan und Isolde (Gottfried von Straßburg), Parsival (Wolfram von Eschenbach) en die anonieme Nibelungenlied.
1250–1500
[wysig | wysig bron]Die uitvinding van drukwerk was van deurslaggewende belang in die laat Middeleeue, wat goedkoop produksie van boeke moontlik gemaak het. Johannes von Tepl het 'n oorgang na die moderne era gemerk met sy Der Ackermann aus Böhmen.