Colmar
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Frankryk |
Administratiewe gewes | Grand Est |
Département | Haut-Rhin |
Koördinate | 48°05′N 7°21′O / 48.083°N 7.350°O |
Stigting | 823 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 66,57 vk km |
Hoogte bo seevlak | 175-214 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2009) | 67 214 |
- Bevolkingsdigtheid | 1 010/vk km |
- Metropolitaanse gebied | 126 300 |
Tydsone | UTC +1 |
- Somertyd | UTC +2 |
Burgemeester | Gilbert Meyer (UMP) |
Amptelike webwerf | colmar.fr |
Colmar is die derde grootste stad van die Franse région (gewes) Grand Est ná Straatsburg en Mulhouse met 67 214 inwoners (2009). Colmar lê in 'n vlakte teen die Lauchrivier, sowat 20 kilometer wes van die Ryn en halfpad tussen Straatsburg (65 kilometer) en die Switserse stad Basel (60 kilometer). Die stad is die prefektuur (hoofstad) van die département Haut-Rhin en setel van die Appélhof van Elsas. Die prefektuur van Colmar administreer ook die arrondissement Colmar, wat uit ses kantons bestaan.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die naam Colmar is afgelei van die Latynse woord colombarium ("duiwehok"). Die stad is deur Franke gestig, en die oudste dokument, wat na Colmar verwys, dateer uit die jaar 823. Frederik II verleen stadstatus aan Colmar, wat sedert 1226 een van die vrye stede van die Heilige Romeinse Ryk en teen die middel van die 14de eeu 'n lid van die historiese Tien-Stede-Verbond van Elsas is. Colmar is in 1648 volgens die Vredesverdrag van Wesfale by Frankryk ingelyf en word die setel van die Soewereine Raad van Elsas. In 1789, die jaar van die Franse Rewolusie, het Colmar 11 000 inwoners.
Ná die Frans-Pruisiese Oorlog word Colmar as deel van Elsas-Lotaringe volgens die Vredesverdrag van Frankfurt, wat op 10 Mei 1871 gesluit is, 48 jaar lank 'n Duitse stad en die administratiewe sentrum van Ober-Elsass, 'n distrik van die Ryksland Elsas-Lotaringe.
Met die Verdrag van Versailles, wat op 28 Junie 1919 onderteken is, word Colmar weer Frans. Die Duitsers beset Colmar nog een keer tydens die Tweede Wêreldoorlog en lyf dit saam met Elsas-Lotaringe ook weer by die Duitse Ryk in, tot by die bevryding van die stad op 2 Februarie 1945.
Argitektoniese besienswaardighede
[wysig | wysig bron]Colmar beskik oor pragtige burgerhuise uit die Middeleeue en die Renaissance-tydperk en het sodoende sy Middeleeuse karakter tot vandag bewaar. Uitstekende voorbeelde van sy argitektoniese erfenis is die Pfister-huis (Frans: Maison Pfister), wat in 1537 deur 'n elvarende hoedemaker opgerig is, en die sogenaamde Koppehuis (Frans: Maison des Têtes), waarvan die fasade met meer as honderd "koppe" versier is.
Die Martins-katedraal is die hoofkerk van Colmar. Dit is in die tydperk tussen 1230 en 1370 in 'n soort oorgangstyl tussen die Romaniese en Gotiese boustyl opgerig. Die Domimikaanse Kerk uit die 13de eeu huisves Martin Schongauer se beroemde skildery Madonna in die rosehaag uit die jaar 1473.
Die stadswyk Petite Venise ("Klein-Venesië) lê teen die Lauchrivier en bekoor met sy ou vakwerkhuise en brûe.
Museums
[wysig | wysig bron]- Die Musée d'Unterlinden staan bekend vir sy Isenheimse Altaar, wat teen die begin van die 16de eeu deur Matthias Grünewald geskep is, en werke van Martin Schongauer. Middeleeuse en plaaslike kunswerke kan eweneens besigtig word.
- Die geboortehuis van die beeldhouer Frédéric Auguste Bartholdi (1834-1904), die skepper van die Standbeeld van Vryheid in New York, is tans 'n museum wat sy werke vertoon.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Die amptelike webwerf van Colmar Geargiveer 27 April 2009 op Wayback Machine